
Die Onmisbare Bydrae van die Jeug In Herman Melville se novelle, White Jacket, word een van die matrose siek met akute maagpyn. Dr Cuticle, die skeeps-dokter, is verheug om 'n pasiënt te hê, met 'n siekte wat iets anders is as die gewone. Hy diagnoseer dat dit die blindederm is en besluit om te opereer. Die matrose word georganiseer in 'n verpleegspan en hulle moet die dokter bystaan. Die pasiënt word gereed gemaak en dr Cuticle begin die operasie met groot presiesheid en vaardigheid uitvoer. Soos wat hy vorder word die verskillende anatomiese besonderhede aan sy stomgeslane helpers uitgewys. Hy word volkome meegevoer deur sy werk en is ook baie goed daarmee. Dit is 'n indrukwekkende vertoning, maar sy helpers is, hoe later hoe minder, beïndruk. Hulle is eerder ontsteld. Toe die operasie afgehandel is en die pasiënt netjies toegewerk is, lê hy dood op die tafel! Dr Cuticle het in sy entoesiasme so opgeneem geraak in sy chirurgie dat hy nie gemerk het dat die pasiënt sterf nie. Die jong matrose aan die ander kant, het in hulle onderhorigheid nie die moed gehad om dit vir hom te sê nie. Hierdie storie kan as 'n metafoor gebruik word om die situasie van die kerk en die rol van ampsdraers en die jeug mee uit te druk. Die kerk is die sterwende pasiënt, besig om dood te gaan onder die operasiemes van die ampsdraers, Nie omdat die ampsdraers hulle werk sleg doen nie, maar omdat hulle nie die noodsaaklike terugvoer van die jong omstanders kry nie. In plaas daarvan dat die jeug deur die ampsdraers bemagtig word om 'n volwasse en verantwoordelike rol te speel in belang van die kerk, word hulle in 'n onderhorige posisie gehou en hulle staan daar verslae en stom. Soms is hulle ook rebels en balhorig, maar op stuk van sake word daar nie genoeg erns gemaak met hulle stem nie. Ten diepste gaan dit ook nie net om 'n luister na jongmense nie, maar om die behoefte aan bemagtiging sodat hulle in staat kan wees om hulle bydrae te lewer met die oog op die "sterwende pasiënt" Die jeug het 'n lewensbelangrike rol om te vervul in die kerk. Hulle plek in die erediens moet nie gedefinieer word rondom hulle behoeftes en hoe hulle bereik moet word nie, maar in terme van hulle taak en die bydrae wat hulle het om te lewer. As hulle nie sinvol geïntegreer word in die kerklike lewe nie, sterf die kerk. Soos Jesus die kindertjies 'n sentrale plek gegee het, so sal ons ook opnuut moet begin om nie net verdraagsaam te wees teenoor die jonges nie, maar te vra na hulle unieke bydrae in ons eredienste. Hulle spontane geloof en entoesiasme is onontbeerlik vir 'n ouerwordende kerk. Hoewel dit skynbaar al moeiliker word om jonk en oud bymekaar te hou, bly dit juis die taak van hierdie vreemde groepering, die kerk. 'n Taak wat die kerk slegs kan volvoer indien hy sy jongmense bemagtig tot 'n sinvolle rol. Die erediens is die plek waar dit eerstens gestalte moet kry. Die Bitou Kruik Sep 2007 OUERS MOET BETROKKE WEES BY HUL KINDERS, BY DIE JEUG!! Ouerskap - ‘n vreugde of ‘n pyn? “Dit is nie vandag maklik om ‘n ouer te wees nie.” Jy het dit sekerlik al iewers gehoor, nie waar nie? Dalk het jy al self by geleentheid so gesê. Toemaar, jy is nie alleen nie. Daar is baie ander wat dieselfde sê. Niemand het gesê dat ouerskap maklik is nie. Dit is dalk baie makliker om 'n ouer te word as om ‘n ouer te wees. Baie jongmense misgis hulle heeltemal met die hoeveelheid verantwoordelikheid wat daar saam met daardie bondeltjie vreugde in die huis inkom. Baie ouers raak vinnig grys wanneer hulle kinders die tienerjare en jongvolwasse stadium betree. Kom ons kry ‘n paar feite reg:
“’n Woedende pa vra vir sy tiener seun: Waar was jy? Die seun wat op heterdaad deur sy pa betrap is toe hy laat die nag in die huis probeer insluip, antwoord: “Nêrens nie.” “Groei tog op!”, raas sy pa met hom. “Hou op om so op die markplein rond te hang en in die strate rond te loop. Gaan skool toe. Jy irriteer my dag en nag. Nag en dag mors jy jou tyd om plesier na te jaag.” Klink dit enigsins bekend? Dit is ‘n vrye vertaling van ‘n 4,000 jaar oue Sumeriese Kleitablet. |






