
DEURLOPENDE AKTIWITEITE en ONDERSTEUNING Op hierdie skakel kan jy die volgende kry: |
Pastorale Sorg
Deernis
Leeglê
Uitreik
Bitou Opleiding
Vroue Belange
Bybelverspreiding
Jeug
Omgeegroep
Pastorale sorg
Gaan na "Kontak ons" skakel vir telefoonnommers en eposadresse.
Suiderkruis:
Leraar Ds Willie Smith
Wyksbediening: Leier: Wessel Havenga
Deernisbediening: Rosa Ebersohn
Nuwe lidmate: Johann Pretorius
Eredienste word elke Sondag in Plettenbergbaai aangebied om 8h30 maar in 2010 is die wintertyd as proefneming verander na 9h00.
Eenkeer per maand word ‘n diens om 10h30 by Harkerville aangebied, soos wat Nature’s Valley een keer per maand deur Noorderkruis bedien word. Die leraar, Ds Willie Smith en sy vrou Charmaine en gesin woon in die gemeente-pastorie langsaan die Kerkgebou in Plettenbergbaai. Ds Chris du Preez en gesin woon in die pastorie langsaan die kerkgebou in Wittedrift.
Ten opsigte van pastorale sorg is die Gemeente verdeel in 2 wyksgemeentes wat deur die twee leraars ds Willie Smith
[Suiderkruis] en ds Chris du Preez [Noorderkruis] bedien word. Onder “STRUKTUUR” op hierdie webtuiste word meer inligting verskaf, insluitend oor die konsep van “Vrye assosiasie” deur lidmate.
Elke lidmaat hoort dus by een van die 2 wyke, maar om nuwe intrekkers en kerk-los lidmate nie onbedien te laat totdat hulle hul keuse oor inskakeling gemaak het nie, geld die natuurlike primêre voedingsarea vir ‘n wyksgemeente. Vir hierdie doel bestaan Noorderkruis basies uit Wittedrift as basis vir eredienste en vir wyksbediening Wittedrift, Nature’s Valley, Keurboomstrand en-rivier.
Suiderkruis beslaan die hele Plettenbergbaai-dorp en areas wes van die dorp, insl Harkerville.
Lidmaatbediening buite die erediens: Skakel asb die betrokke leraar vir enige hulp of ondersteuning of
bemoediging wat u mag nodig kry - - ons leraars sal graag kom kuier.
Ter agtergrond: Die mees geskikte wyse om lidmate te bedien het in 2010 sterk onder die soeklig gekom as ‘n verder stap in die Gemeentebouprogram van 2006 om ‘n meer effektiewe gemeente te ontwikkel. ‘n Struktuur van ‘n kombinasie van omgeegroepe en wyke waar omgeegroepe sou groei en wyke al meer uitfasseer word, was as deel van die Gemeentebouprogram in 2006 as ideaal en doelwit gestel. Omgeegroepe sukkel steeds vier jaar daarna om van die grond af te kom en hersiening van die metode en wyse om sekere doelstellings, veral ten opsigte van lidmaatbediening, te bereik, het nodig geword. Die eindresultaat wat “kultuurverskille” en verskillende maniere van doen in ag neem, het uitgeloop op die struktuur van 2 wyksgemeentes soos hierbo vermeld. Elke leraar het sy eie wyse van betrokkenheid by lidmate.
Suiderkruis: Die kern is dat die ou tradisionele wyse van geografiese wyke nie meer deurgaans toegepas word nie. ‘n Meer informele stelsel van omgee vir mekaar word ingestel, maar wat glad nie noodwendig verband hou met geografiese grense nie. Ds Willie dra sorg dat elke lidmaat na omgesien word deur en toegedeel word aan ‘n ander lidmaat en vir hierdie doel sal sulke lidmate wel beskou en geidentifiseer word as “Wyks-en Omgeeleiers”. Die stelsel sal as meer persoonlik beskryf kan word met ‘n verbintenis deur die “wyks/omgeeleiers”. Sulke groepe kan wel ‘n ‘ou’ tradisionele wyk wees, of ‘n Bybelstydiegroep, of ander Belangegroep of ‘n persoonlike indeling/toedeling.
Omrede omgee-vir-mekaar (op alle terreine) die kern van lidmaatbediening is, word, ter inligting en as agtergrond, die doel, rol en werkswyse van ‘n Omgeegroep hieronder, heel aan einde van hierdie oorkoepelende skakelblad, verskaf. [Druk betrokke skakel hiebo]. Dit kan van veel waarde wees al is die stelsel van Omgeegroepe nie meer ‘n primêre doelwit nie.
Bykomend tot primêre pastorale sorg deur die leraar en “wyks/omgeeleiers”, is daar die volgende aktiewe bedieninge in die Gemeente (oorkoepelend) en Suiderkruiswyk.
Deernisbediening
Wil jy ook betrokke raak by hierdie bediening?
Daar word maar deurentyd persone benodig om hierdie liefdesdiens te versterk en uit te bou.
Belangstellendes kontak gerus vir Rosa Ebersohn 044 533 3212
Die mate van sukses hang af van die kommunikasielyne tussen predikant, koördineerder, wyksleiers, leiers van ander belangegroepe en elke gemeentelid sodat geweet kan word waar hulp benodig word.
Die Here gee aan ons die groot voorreg van Sy Liefde. Kom ons gebruik dit vrylik en deel dit ook uit aan ander. Indien jyself hulp benodig of weet van iemand wat hulp of ondersteuning in enige vorm moet kry, skakel asb met ‘n leraar of enige lid van die Deernisbediening.
Skakel gerus vir meer inligting.
Bejaardesorg | Nerine van Wyk | 044 533 1850 |
Siekesorg | Rosa Ebersohn | 044 533 3212 |
Krisisbediening Gestremdheidsbediening | Danie Share | 044 533 0648 |
Gesprekvoering & toerusting | Ninnie Harmse Johan Pretorius Else Irvine | 044 535 9711 044 533 6906 [ds.] 044 535 5823 |
Leeglê: Sosiaal
Daar word eenkeer per maand, op die eerste Donderdag van ‘n maand, ‘n sosiale byeenkoms, op ‘n bring-en-braai wyse, gehou - -onder die vaandel van die Leeglêklub. Dit geskied oor die etensuur. Die byeenkoms vind op verskillende plekke, sover moontlik in die natuur, in ons eie omgewing plaas.
Nuwe intrekkers maak op so ‘n informele en lekker-kuier wyse maklik kontak met ander lidmate. Kom gerus want die doel is juis om inskakeling makliker te maak en om kontak te behou. Sodoende leer ons mekaar beter ken en vriendskappe ontstaan en word verder gebou. Vir bestaande lidmate is dit ‘n hoogs-populêre afspraak wat nie maklik gemis word nie.
Kontak Johann en Bea Pretorius by
044 533 6148 en 082 366 8805
Uitreik: Missionêr
VIGS:
Ons gemeente werk saam met die Plett Aid Foundation waar daar op ‘n weeklikse basis bedlêende en verswakte persone in hul huise versorg word. Die Foundation het persone opgelei; so werk geskep en ‘n uitstekende fasilitddeit op die been gebring.
VEILIGE HAWE vir VROUE en KINDERS:
Die gemeente is ook betrokke by “Invicta House” wat ‘n plek van veiligheid is vir veral vroue en kinders wat gemolesteer raak. Hulle word in total versorg en kry ook mediese behandeling en berading. Die huis kan 20 persone hanteer as kamers gedeel word.
SOPKOMBUISE:
Vroue van ons gemeente onderhou ‘n reeks sopkombuise. In Wittedrift word by die Wittedrift Kliniek elke Woensdag en elke tweede Maandag [saam met Gereformeerde kerk] plus aan bejaardes tuis, sop voorsien. (Getalle 30 tot 60.) Die Kranshoek Kliniek (sowat 30 kinders) kom elke Vrydag aan die beurt. In die Harkerville omgewing kry kinders en werkloses op Boschfontein sop en 3 tot 4 keer per maand verskaf ons toebrooodjies aan die Kliniek se kombi vir pasiënte in afgeleë gebiede. Daar is ‘n sopkombuis elke Dinsdag en Donderdag by Vuilgoed Stortingsterrein (omtrent 30 persone) en gebruikte klere en Bybels word ook hier uitgedeel. Elke Kersfees word ‘n kersboom, met eetgoed, aan omtrent 300 kinders aangebied.
‘n KLEREBANK word deur Andrie Combrink bedryf en in oorleg met susters van die klinieke aan behoeftiges verskaf.
Skakel Skakel Andrie Combrink [044 533 0747 of 082 474 4378] as jy graag betrokke wil raak of ‘n donasie wil maak tov enige van bogenoemde uitreikaksies - -dit sal so welkom wees.
SKOLE:
Verder verskaf Marie Els, Annelie Oosthuizen en Thea Lombard twee maal per week sop of ‘n eenpotgereg aan 90 kinders van Harkerville Primêre Skool.
‘n NOODSPENS word onder Sanet vanRooyen se bestuur, gehou. As die honger knaag, kom klop talle by die kerkkantoor en pastorie aan.
Ons gemeente het verantwoordelikheid aanvaar vir 15 dogters by die ROBERTSON KINDREHUIS - -in die vorm van eetgoed en toiletware dwarsdeur die jaar en klere volgens behoefte. Kontak Marie Els as jy dalk meer inligting verlang.
KERK in KWANOKUTHULA:
Onder leiding van Dr Dries Gous is ‘n erf deur die gemeente aangekoop en ‘n vooraf-vervaardigde geboutjie (50 vk.m) deur Comic Combrink opgerig. ‘n Gemeente bekend as Uniting Reform Church is opgebou en kerkdienste word Sondae aangebied deur ouderlinge van die gemeente en deur Ds Burger, sendeling vir Suid-Kaap, asook soms deur Ds Willie Fourie wat met sy kennis van Xhosa ook ondersteuning aan die gemeente gee. Ons gemeente gee ook donasies (bv al die stoele) en Elize Green is aktief hiermee betrokke. Die kerkgeboutjie word ook vir kleuteronderrig benut deur ‘n pakket wat gratis deur lidmaat Tewis le Roux, skoolhoof van Christian School, verskaf is. Marie Monk doen reeds vir baie jare die arbeidsbediening met die verspreiding van Xhosa en Afrikaanse Bybels. Ons gemeente het in 2008 ‘n man van die kerkie [Vuzi] finansieel bygestaan om ‘n beradingskursus te kon doen. Hy beklee nou ‘n pos by die plaaslike kliniek. Deur ywerige fondsinsameling van ons gemeente en Suid-Kaap Sending staan ‘n Kerkboufonds vir ‘n toekomstige kerkgebou reeds op R120 000. Dis ‘n droom om die vooraf-vervaardigde geboutjie te kan vervang.
Die gemeente onderneem ook jaarliks OPLEIDING van HUISBEDIENDES en in 2007 is 13 dames opgelei as “EDUCARERS” by KLEUTERSKOLE. Meer hieroor onder afsonderlike skakel: “Bitou Opleiding”. Skakel Sanet van Rooyen vir meer inligting en donasies. (082 856 4150)
Verder word bybelverspreiding deurlopend onderneem. Meer hieroor onder ‘n eie skakel: “Bybelverspreiding”. Skakel Dries Gous of Marie Monk.
Bitou Opleiding
Agtergrond
By die destydse Diens van Barmhartigheidskommissie het die vraag ontstaan: wat kan ons doen om uit te reik na die armmoediges in die omringende gemeenskap om hulle lot te verlig en hoop te bring? Dus, nie net om te gee terwille van gee nie, maar om hulle te bemagtig om self iets aan hulle lewensomstandighede te kan doen. Dit is waarom Bitou Opleiding vir Huiswerkers tot stand gekom het. Deur twee vroue, Bea Pretorius en Connie Peet, wat bereid was om hulself hart en siel te verbind aan die gedagte om Hoop te bring. ‘n Verdere leidraad was ‘n entoesiastiese vriendin deur wie hulle kontak kon maak met Bergzicht Opleidingsentrum in Stellenbosch wat sodanige opleiding doen en ‘n kursus daarvoor ontwerp het.
Die volgende stap was om ‘n geskikte lokaal te kry waar hulle Xhosa-vroue kon oplei. Die Kerkraad van NG Kerk Plettenbergbaai het ingewillig dat die saal en kombuis hiervoor gebruik word. So kon hulle dus die eerste groep in November 2002 oplei en in ‘n werksituasie plaas. Een klein stappie vir twee vriendinne met ‘n droom, maar een groot stap vir die gemeenskap!
Finansiering? Bea onthou: “Hier het die Here na ons versugting geluister. Nadat ons ‘n werker vir ‘n Duitse egpaar opgelei het, het hulle vir sy 60ste verjaardag ‘n fondsinsameling gedoen en dit as ‘n substansiële donasie aan Bitou Opleiding geskenk. Ander kere wanneer die ou fotostaatmasjien of ou rekenaar ingegee het, het mense op ons pleidooi uit die gemeente en uit die gemeenskap na vore getree en nuwes gekoop. Waarlik die Here het ons geloof nooit beskaamd gelaat nie!”
Bea vertel verder: “Dit was ‘n steil leerkurwe aan die begin met die keuring van geskikte vroue, wat gemotiveerd sowel as geletterd moes wees. Daar was deernis vir gebrek aan ervaring of andersoortige kennis. In die opleiding is alles so
prakties as moontlik aangebied met baie gebare en gelag. Hiermee het ‘n aantal vroue (en mans) hul bereidwilligheid vir naastediens getoon deur ons te help. Met die lewensvaardighede wat die vroue deur die opleiding verwerf het, het dit mens laat beleef dat jy ‘n groot verskil in ‘n hele aantal vroue se lewens gemaak het. En hulle het saam met ons die Here daarvoor geloof!”
Die afgelope paar jaar het Bitouopleiding ‘n integrale deel van die gemeentelike-aktiwiteite gevorm. Met groot
sukses was daar tot einde 2009, altesaam 212 dames opgelei om suksesvol in huishoudings werksaam te wees. In 2010 is ‘n verdere 12 dames opgelei.
In 2007 is ‘n “Educare” kursus aangebied deur Truida Hofmeyr. Kortom is dit die opleiding en ontwikkeling van ongeskoolde, werklose persone van voorheen agtergeblewe gemeenskappe om hulle instaat te stel om jong kinders holisties te ontwikkel en versorg en ook sodoende ‘n inkomste te genereer.
In 2008, 2009 en 2010 is die opleiding van huisbediendes, insl kookkuns, voortgesit onder leiding van Trynie Roberts en Sanet van Rooyen. Sanet bestuur en administreer ook die afdgelope paar jaar die sake van Bitou-opleiding.
Bitou-opleiding is ‘n geregistreerde Artikel 21 maatskappy en staan onder toesig van Trustees, met huidige voorsitter Steyn de Villiers, ‘n prokureur op die dorp en NG lidmaat van Suiderkruis.
Bitou-opleiding maak vir sy voortbestaan staat op donasies. Op so manier kan enige van die lidmate ‘n bydrae maak tot ‘n projek wat hoop bring vir mense. ‘n Tasbare uitreikaksie en bydrae tot die uitlewing van die Gemeente-visie...”en bring ons hoop in Bitou”.
Bid asseblief vir hierdie projekte, ons glo die Here se seën sal daarop rus.
Vir verdere navrae: Kontak Sanet van Rooyen 082 856 4150
Belangegroep vir Vroue
‘n Uittreksel uit ‘n brief van Andrie Combrink vat die werksaamhede goed saam:
“Ons word werklik geseën met uiters voorspoedige gebeure in die lewe van die Vrouediens (soos almal dit ken)
van die N G Kerk , Plettenbergbaai. Wyer geografiese byeenkomste word van tyd tot tyd aangebied en
gewoonlik goed bygewoon deur ‘n groot aantal vroue uit ons buurkerke.
Daar was bv ook die “Wêreld Biddag Vir Vroue” in Maart 2006 waarvoor ons as gasvrou-kerk moes optree.
Volgens almal teenwoordig, (350 vroue van verskillende kulture en kleur) was dit ‘n groot sukses en belewenis.
Die Moedersdag en Vadersdag etes wat ons in die kerksale van Plettenbergbaai en Wittedrift aanbied is altyd
‘n reuse sukses. Almal kan dan teen ‘n baie billike prys, heerlik kuier en eet Dit is ‘n positiewe bydrae tot ons
Gemeente Bou Aksie.
Onder die vaandel van die Vroue Belange Groep, het ons ook die pragtige handwerk van ons ontslape vriendin,
Jess v. Niekerk, laat raam. Dit lyk pragtig ! Baie dankie aan die persone wat so gewillig bygedra het.
Meermale word ‘n groot en lekker Teepartytjie na die Gesamentlike Nagmaal in Plettenbergbaai gehou,
aangebied deur die Belange Groep vir Vroue. Ook ons dank aan almal wat deur die jaar sorg vir die tee en
blomme , ons weet dit is soms moeilik en moeite. Baie dankie.
Baie dankie aan ons span pannekoekbakkers wat so gewillig is om deur die jaar elke nou en dan te kom werk.
Ons het ‘n stewige neseiertjie bymekaar gemaak. Aan Johan v.d. Schyff wat altyd bereid is om eiers te skenk en
al die ander skenkers van bestanddele, dankie. Ons sien dit raak en waardeer dit.
Dankie vir ‘n baie lekker en besige tyd in hierdie mooi kontrei waar ons woon.”
Skakel Andrie by 044 533 0747 of 082 474 4378
Bybelverspreiding Aksie
Hierdie uitreikaksie staan onder leiding van Dr Dries Gous. Hy vertel met geesdrif: “Dit is altyd verseker ‘n aangename ervaring om te ondervind hoe mede-christene van alle bevolkings groepe daarna smag om ‘n Bybel in hul eie taal te besit. Dit herinner aan o.a die voortrekkers wat die onbekende ingevaar het met dikwels ‘n Bybel as die enigste boek in hul besit. Menige kind het geleer lees en skryf aan hand van die Bybel. Geen wonder dat die ouer garde feitlik woordeliks skrifgedeeltes kon aanhaal. Watter wonderlike wyse is die weg gebaan vir die Heilige Gees om die geloofsaadjie te laat ontkiem en te gedy tot volwassenheid.
Met die visie is daar besluit om ‘n langtermyn doelwit daar te stel, naamlik om ‘n Bybel in elke huis in die Bitou streek te plaas. Vir die eerste jaar het Pieter van Niekerk vir ons ‘n doelwit van 200 Bybels vir die jaar op skrif gestel met aksies hoe om fondse in te samel en Bybels te versprei. Marie Monk is al jare besig deur arbeidsbediening om Bybels te versprei maar hierdie sou ‘n ekstra bo-en-behalwe aksie wees met o.a die nou bekende dosie waarin kleingeld vir die doel ingesamel is. Op ‘n stadium is daar met die R12 124 so ingesamel, 400 Bybels aangekoop en versprei.
In die proses is daar onder die inisiatief van Ds Willie Fourie hande gevat met Christene van ander kerke in die gebied. Behalwe vir die VGK, Community Church, Luthern- , Katolieke- en Anglikaanse kerke was nege denominasies van die swartkerke teenwoordig aanvanklik betrokke. Daar word gepoog om die forum maksimaal te benut vir die bereiking van ons visie.
Onthou asseblief die Bybel-dosies , en natuurlik enige ander donasie is welkom. Ons vra ‘n nominale bedrag van R20 per Bybel wanneer ons dit versprei. Ons is dankbaar dat persone Bybels kom afhaal by die kerk (en selfs betaal) vir skenking aan persone in hul diens of omgewing. Ons bid Gods rykste seën toe aan julle en is werklik dankbaar vir die wyse waarop ons poging geseën word.”
Jeug
Hierdie aktiwiteit word onder ‘n eie afsonderlike skakel geplaas. Kyk gerus na Tuisblad en skakel vandaar regstreeks op JEUG.
AGTERGROND EN INLIGTING OOR OMGEEGROEPE: DOEL, ROL EN WERKSWYSE
Die Omgeegroepbediening
Dit is die taak van die Omgeegroepbediening om die infrastruktuur daar te stel sodat meer omgeegroepe in die gemeente gevestig kan word. Hieronder volg ‘n verduideliking van wat ‘n Omgeegroep is en die werking daarvan.
WAT IS 'N OMGEEGROEP?
Voor ons antwoord gee op hierdie vraag, kom ons kyk eers na wat ‘n omgeegroep nié is nie.
'n Kliek. ‘n Omgeegroep is nie ‘n afgeslote groepie mense wat geen toevoeging tot hulle geledere toelaat nie. Inteendeel, die hele beginsel by ‘n omgeegroep is juis dat gelowiges ingeskakel moet word sodat die groep kan
groei tot op daardie punt waar dit moet verdeel. Só word een groep twee, en die twee groepe weer vier, en
agt, ens. ‘n Omgeegroep wil inklusief wees en nie eksklusief nie!
'n Homogene groep. 'n Omgeegroep is nie ‘n groep eendersdenkendes en/of ‘n belangegroep wat mekaar
uitkies en net op hulle eie behoeftes ingestel is nie. Daar word wel aandag gegee aan mekaar en ander se
behoeftes, maar dit is nie die hoofsaak nie.
'n Terapeutiese groep. Hoewel probleme van ‘n wye aard in die groep hanteer word, is ‘n omgeegroep nie ‘n
groep wat hoofsaaklik op probleme en die oplossing/hantering daarvan konsentreer nie.
‘n Bybelstudiegroep. ‘n Omgeegroep is nie ‘n groep wat die klem net op Bybel- en geloofskennis laat val nie. Die
Bybel het wel ‘n sentrale plek in die groepsbyeenkoms, maar dan rigtinggewend en nie net vir die bestudering
daarvan nie.
‘n Klein gemeentetjie. ‘n Omgeegroep is nie ‘n outonome groep mense wat sonder die res van die gemeente kan
klaar kom nie. Die gemeente (en die wêreld) is die werksplek van die omgeegroepe en die eredienste is die kragstasies.
Daarom is “deel wees van” die gemeente altyd belangrik!
'n Gewone kleingroep. ‘n Omgeegroep is nie bloot ‘n hulpmiddel vir die gemeentebediening met die klem op byeenkomste nie. Omgeegroepe ís gemeentebediening - deur gemeentelede.
‘n Wyk. Omgeegroepe word nie geografies bepaal nie. Gelowiges word nie in ‘n bepaalde omgeegroep geplaas
nie, maar kies self waar hulle wil inskakel.
Weer terug na die vraag: wat is 'n omgeegroep?
'n Omgeegroep bestaan uit:
‘n Aantal gelowiges, wat gesinne sowel as enkelpersone insluit, wat gereeld byeenkom in gemeenskap met
die Here en met mekaar en wat mekaar dien met die gawes wat hulle van die Here ontvang het
Hulle leef, ook buite die byeenkomste, soos ‘n geestelike huisgesin, aanvaar verantwoordelikheid vir mekaar
en bou voortdurend aan verhoudinge met mekaar.
‘n Omgeegroep is dus ‘n groepie gelowiges wat ‘n verbintenis met mekaar (en vanselfsprekend ook met die
Here) gemaak het om mekaar fisies en geestelik te versorg.
Dit gaan in die omgeegroep oor die gelowige se totale bestaan as mens van God: Bybelstudie, gebed, werk,
gesin, gesondheid, geld, sport en politiek - die totale mens.
Daar word saam na die wil en roeping van die Here vir ons lewens gesoek en omgeegroeplede moedig
mekaar aan om aan hierdie roeping gehoorsaam te wees. Sodoende rig die omgeegroep hom nie net op
homself nie, maar ook op ander mense.
DIE VOORDELE VAN OMGEEGROEPE
Omgeegroepe bied aan gemeentelede ‘n gulde geleentheid om op informele wyse deel te neem aan geestelike
aksies. Die byeenkoms word deur elke groep aangepas om by almal se tye en werkpatrone in te pas.
Die weeklikse “kragstasie” word, namate die groep geestelik groei, onontbeerlik vir groeplede. Dit word ‘n
geleentheid waarna met verwagting uitgesien word.
Huwelikspare kan nou aktief saam hulle geloof beoefen en is saam betrokke by die Woord van God.
Groeplede leer om geestelik te kommunikeer vanuit die Woordstudie wat plaasvind tydens die byeenkomste.
Omgeegroepe bied aan gelowiges die geleentheid om uit te reik na binne en buite die groep. Op die manier
word mense bevry van selfgesentreerdheid.
Die groeplede groei in openheid en eerlikheid teenoor mekaar namate die uitleef na mekaar ‘n volwasse
stadium bereik.
Die omgeegroep is ‘n “werkswinkel” vir lede waar hulle kan leer om te bid, Bybelstudie te doen en te getuig.
Besondere vriendskappe word gesmee.
Die onderlinge liefde, warmte en ‘n gevoel van “familie wees” neem toe.
Met hierdie belewenis van liefde en hartlikheid kom die groep na eredienste toe en bring dit saam die kerk in.
Elke lid van die groep kan hier ook sy/haar gawes ontdek en ontgin.
Die grootste voordeel van omgeegroepe is egter GEESTELIKE GROEI, sodat God meer verheerlik kan word.
DEEL WEES VAN 'N OMGEEGROEP
Het ek ‘n omgeegroep in my lewe nodig? Nee, dit bly steeds jou eie keuse. Oorweeg egter eers die volgende:
Hoe lyk jou geloofsgroei? Elkeen van ons moet daarna streef om geloofsvolwassenheid te bereik. Dit gebeur
nie oornag nie, maar is ‘n voortdurende groeiproses wat nooit ophou nie. As jou geloof dus steeds toenemend
groei en al sterker word, het jy dalk nie ‘n omgeegroep nodig nie, MAAR...
Die omgeegroep het jou nodig! Die Here het aan elkeen van ons ‘n sekere gawe of gawes gegee waarmee ons
Hom, maar ook mekaar moet dien. In die omgeegroep sal daar altyd mense wees wat ‘n behoefte sal hê aan die
diens wat dalk net jy vir hulle kan lewer.
KONTAKNOMMERS
Vir meer inligting, of om in te skakel, kan die volgende persone geskakel word:
Geo Knoetze 044 535 9700/ 083 525 8977 of
Truida Hofmeyr 044 535 9456/084 654 3200





